Die Deur van die Hart
- May 6
- 3 min read

“Moenie die deur van jou sel wyd oopgooi vir almal nie, maar moet dit ook nie so styf toehou dat die vuur uitdoof nie.”
Hierdie ou wysheidswoord van die Woestynvaders kom al lank saam met my soos ’n stille metgesel:
Dit is nie ’n reël nie, maar ’n uitnodiging. Nie ’n voorskrif nie, maar ’n vorm van onderskeiding. Dit gaan nie oor onttrekking aan die lewe nie, maar oor hoe ’n mens die lewe bewoon sonder om jou binneste te verloor.
Jou sel kan gesien word as jou spasie waarmee jy leef – jou hart. Vir baie jare het ek met die deur te wyd oop geleef. Altyd beskikbaar. Altyd bereikbaar. Altyd responsief. Dit het soos liefde gelyk – en soms was dit liefde. Maar dikwels was dit vrees vermom as goedheid: die vrees om mense teleur te stel, om nie nodig te wees nie, om afwesig te wees wanneer daar ’n beroep gedoen word.
Stadig, byna onmerkbaar, het die vuur begin verdoof. Daar was baie aktiwiteit, maar min hitte. Baie woorde, maar min stilte. Ek was besig, maar nie werklik teenwoordig nie.
Toe kom die teenoorgestelde versoeking. Stilte as skuilplek. Afsondering as beskerming. ’n Nuwe persona het ontstaan – die toegewyde, die kontemplatiewe, die een wat nie maklik onderbreek kan word nie. Ook dit kan ’n vorm van selfgesentreerdheid wees, net meer aanvaarbaar, selfs bewonderenswaardig. Die deur is nou toe, maar nie om die vuur te beskerm nie – eerder om nie geraak te word nie.
Die Woestynvaders het albei gevare geken. Daarom het hulle oor die sel gepraat, nie as ’n ontsnapping uit die wêreld nie, maar as ’n plek waar die wêreld gesuiwer word. Die sel het ’n deur omdat stilte beskerming nodig het – maar ook deurlaatbaarheid. As die deur altyd oop is, waai elke wind die vuur uit. As dit altyd toe is, versmoor die vuur.
Die Skrif sê dit eenvoudig en radikaal: bewaak jou hart bo alles wat bewaar moet word, want daaruit kom die lewe (Spr. 4:23).
In die Ortodokse tradisie is die hart nie bloot die setel van emosie nie. Dit is die sentrum van bewussyn – die plek waar denke, verbeelding, geheue, wil en begeerte saamvloei. Om die hart te bewaak is nie om dit toe te sluit nie, maar om dit te versorg. Om aandagtig te raak vir wat die vuur voed en wat dit uitdoof. Om nee te sê vir dit wat ons fragmenteer, selfs wanneer dit vroom of nuttig lyk.
Meditasie help ons om bewus te word van die deur. Dit bring nugterheid en duidelikheid. Die troebel water van ons bewussyn raak stil sodat ons kan sien wat onder die oppervlak van die water aan die gang is. Dit vertraag ons genoeg om raak te sien hoe maklik ons toegang gee sonder onderskeiding, of hoe vinnig ons onsself verskans sonder liefde. Gewoontes, verknogthede, ongeordende gehegthede, soos om te veel te praat, altyd reg te wil wees, alles te wil beheer, te veel te eet, onsself te verwaarloos…die lys is lank. Hierdie sien gaan dieper. Dit leer ons om uit die hart te leef, nie net oor die hart te dink nie. Dit nooi ons in ’n ervaring van eenheid – waar God, self, ander en skepping mekaar raak.
Die beweging van kop na hart is nie ’n beweging weg van die wêreld nie, maar dieper daarin. Wanneer die hart bewaak word, verdiep teenwoordigheid. Beskikbaarheid word vrywillig eerder as kompulsief. Stilte word vrugbaar eerder as defensief. Gemeenskap put ons nie uit nie, omdat dit vloei uit die vuur, en nie voed op die laaste kole nie.
Die ou monnike het dit só gestel: “Doen niks wat die vuur uitdoof nie.” Nie alles wat jou moeg maak is boos nie. Nie alles wat geestelik klink, is lewensgewend nie. Wysheid lê daarin om die verskil te leer ken.
Die Woestynvader Abba Josef het met sy hande in die lug en sy tien vingers soos brandende kerse gesê: “If you will, you can become all flame.” Om ”alles vlam” te word, beteken nie om uit te brand nie, maar om reg te brand. Met ’n deur wat oopgaan in liefde en toemaak in vertroue. Met ’n hart wat beskerm word, warm word en stadig verenig word.
Dit is die uitnodiging: nie om van die oppervlak van die lewe te vlug nie, maar om daardeur te beweeg – na die diepte, die wese, die lewende kern. Daar waar die vuur bewaar word. Daar waar alles sy oorsprong het.